MOEDERSDAG

 

DIE EGTHEID VAN MOEDERSDAG OF DIE GOED VAN MAMMASDAG?


Ek is deesdae baie versigtig om te soek vir die GOED in die wêreld.  Ek soek eerder vir EGTHEID.  Dis omdat GOED meestal mooi aangetrek word in kunsmatige kledingstukke terwyl EGTHEID die naakte werklikheid onbeskaamd vertoon, ondanks die waarskynlik-moontlike littekens.


Tradisioneel word daar een maal per jaar, in Mei, ‘n Sondag gewy aan die viering van MOEDERS en staan bekend as MOEDERSDAG.  Oral, in winkels en op sosiale netwerke, word dit afgekondig met glansryke advertensie- en plakkaatveldtogte wat sekermaak dat almal wat kan sien, daarvan kan kennis neem.  Skoolkunsklaskaartjies, ontbyt-innie-bed bedien deur kinderkokke, pantoffels & kamerjasse, uiteet, blomme, chocolates, ensovoorts is aan die orde van die dag.  Pappas en kinders, van oral oor, poog om mammas te bederf.  

 

Mamma.  Dankie dat Mamma vir ons kosmaak.  Dankie dat Mamma ons skool toe vat.  Dankie dat Mamma vir ons klere koop.  Dankie dat Mamma mooi na ons kyk.  Dankie dat Mamma ons huis skoonmaak.  Dankie dat Mamma vir ons lekkergoed koop.  Jy is die mooiste Mamma.  Ek is lief vir Mamma.


Eintlik vier ons MAMMAS vir dit wat hulle doen.  Wesenlik is daar niks verkeerd met hierdie tradisionele viering nie, maar hoe ouer ek word (ek is intussen bevorder van Mommy na Nana toe), hoe meer besef ek dat hierdie tipe viering amper dieselfde is as om ‘n viral openbare bedanking aan Incredible Hulk (op elke sosiale media platform) te stuur met omskrywende lof vir sy bonatuurlike krag net omdat hy vir jou die glasbotteltjie beetslaai se stywe deksel oopgedraai het! 


Toe hulle klein was, het my eie awesome foursome my ook lekker bederf en ek het groot waardering daarvoor gehad.  Daar was egter maar altyd, in my agterkop, ‘n soort rustelose verontwaardigende onvervuldheid daaroor dat ek bedank word vir dinge wat eerder die verantwoordelikheid van ‘n volwasse ma is of bloot geen beduidende breinkrag of heldhaftige pogings verg nie.  Niemand gaan mos nou Time Magazine se voorblad haal met hierdie klas van prestasies nie!  Ek het wel geen twyfel dat die liefde en dankbaarheid eg was/is nie en daarom kon ons oor die jare heen, ‘n hegte band vorm wat gereeld beduidend-snaakse, effe donker galgehumor ingesluit het.  Dit was juis vanuit ‘n donkerder lagsessie een middag dat die inhoud van hierdie skrywe, begin vorm aanneem het.  My eergeborene, toe reeds ‘n 26-jarige pappa van ‘n eenjarige seuntjie, het met fyn-ingestelde astrantheid al my knoppies gedruk toe ek hom oor een van sy oortredings tereggewys het.  In Desember van 1993 was hy slegs 51cm lank en het hy slegs 3.4kg geweeg toe ek sy MAMMA geword het.  Voor dit, het ek vir net oor die 37 weke lank ongeveer 1,554 keer opgegooi wat gemaak het dat ek die skaal op ‘n skamele 39kg getrek het teen die 20ste week van swangerskap.  Teen die tyd dat ek in die teater ingestoot is vir ‘n keisersnit, het ek steeds opgegooi, maar darem ‘n skaflike 52kg geweeg.  Natuurlike kindergeboorte was buite die kwessie aangesien die fisiologiese verhouding tussen skoengrootte en bekkenbeenopening al was waaroor die dokter kon dink toe hy hoor dat ek ‘n nommer 2 skoen dra!  Dit het nie gehelp toe ek hom vertel dat my ouma, as een van ‘n tweeling, op 28 weke natuurlik gebore is in 1914 toe haar 14-jarige ma uit ‘n appelboom uitgeval het, ook ‘n nommer 2 skoen gedra het en natuurlik geboorte geskenk het aan 3 kinders nie!  Maar die groot man voor my, my cheeky-smart-mouthing oudste seun, het meer as 30cm bo my uitgetoring en was amper dubbel so swaar soos ek.  Nietemin, met die herinnering aan sy begin, het ek opgekyk in sy oë en voor ek myself kon kry, die volgende woorde, sonder enige moeite, laat uitvloei:  “My dear amazing firstborn son, you do realize that there once was a time when I possessed the absolute power over your life and/or death?  I could’ve smothered or strangled or drowned you!  You are alive because I chose to uphold your life!”  Na my eersgeborene, het ek gekies om nog 3 ander briljante kinders se lewens te uphold ten koste van my eie en enetjie wat ek, weens omstandighede buite my beheer, verloor het.  Dit het nie beter gegaan nie!  Ek was swanger vir 3 jaar van my lewe, het altesaam ongeveer 5,250 keer opgegooi, 50kg opgetel, 2 ligte beroertes gehad en die kwikvlak van die bloeddrukmeter nooit verby 80/40mmHg gestuur nie om maar net ‘n paar van die hoogtepunte op te noem.


Ek wil nie blomme of pantoffels of ‘n kamerjas of ontbyt-innie-bed of chocolate hê om dankie te sê dat ek doen wat ek ooreengekom het om te doen en grotendeels nie eers van hou nie (kook, bak, skoonmaak, inkopies doen, ens.)!  Nog minder wil ek bedank word daarvoor dat ek lief is vir my kinders!  NEE!  Ek wil nie bedank word omdat ek ‘n MAMMA is nie, ek wil vereer word omdat ek (5 keer) ‘n MOEDER was!  Vergeet van ‘n Oscar of ‘n Grammy, ek wil in ‘n asemrowende ball gown beloon te word met ‘n reuse, blink, goue toekenning waarop my naam gegraveer is tydens ‘n indrukwekkende glansgeleentheid terwyl ‘n volgepakte Super Bowl arena my met egte waardering luidkeels toejuig en met dreunende applous waardeer!  Dit klink taamlik verwronge en beduidend verwaand, reg?  Bear with me vir ‘n klein rukkie langer, die prentjie sal binnekort duideliker word.


Kom ons oorweeg die biologie vir ‘n oomblik.  Genetiese materiaal van beide ‘n MOEDER en ‘n VADER word saamgevoeg in ‘n enkele sel om ‘n nuwe mensie te begin.   Die enkel-sel-mensie vind veilige beskutting diep binne-in die MOEDERskoot waar die MOEDERbrein opdrag gee dat die enkel-sel-mensie ontwikkel tot ‘n volwaardige mensie met veelvuldige gespesialiseerde orgaanstelsels.  Die MOEDERhart verseker dat lewegewende bloed onophoudelik vloei.  Uiteindelik, ongeveer 9 maande later, skenk die MOEDERliggaam gedeeltelik-onafhanklike lewe aan die mensie.  Hierdie mensie het sy hele lewensbestaan tot op hierdie punt te danke aan sy MOEDER en hoewel daar nou nie meer ‘n fisiese verbintenis bestaan tussen mensie en MOEDER nie, beskik mensie nie oor die vermoë om lewe te onderhou nie en is heeltemal afhanklik van ‘n MAMMA en/of PAPPA om dit te doen.  


So, om die Biologie saam te vat in ‘n dramaproduksie-analogie, VADER speel ‘n mede-hoofrol in die 3-minute openingstoneel.  Daarna volg ‘n reeks van ongeveer 40 weeklange veranderende tonele waar MOEDER die onafhanklike hoofrol en mensie die afhanklike hulprol vertolk.  VADER verskyn glad nie weer in die produksie nie.  Die openingstoneel is soos om twee mense te sien praat oor die idee om ‘n kar te ontwerp wat net water as brandstof gebruik.  Die volgende 40 tonele vertoon die werk van slegs een mens - die navorsing, ingenieurswese en vervaardiging van prototipes asook die eindproduk van ‘n kar wat, uiteindelik, slegs water as brandstof kan gebruik.


MAMMAwees is GOED, maar MOEDERwees is EG.  MAMMAwees kan baie mooi aangetrek word om foute te verbloem en ‘n ideale prentjie te skep, maar MOEDERwees verg dat ‘n vrou haar waardigheid prysgee vir die onbeskaamde, naakte waarheid om lewe te skenk aan ‘n nageslag.  Enige verantwoordelike, volwasse persoon (PAPPAS ingesluit) kan die rol van MAMMA vertolk, maar net ‘n vrou kan ‘n MOEDER wees.  


Ek en jy en alle mense (ongeag van geslag, status, beroep, kwalifikasie, geloof, nasionaliteit, ens.) is ons lewens te danke aan die fisiese opoffering van ‘n vrou, ‘n MOEDER (haar liggaam, haar brein, haar hart). 


Billy Graham, passievolle evangelis wat miljoene mense na Jesus toe gelei het, was nie daar omdat William & Morrow saam die idee gehad het nie, nee, Billy was daar omdat Morrow die opofferingswerk gedoen het!  Beteken dit dan dat as Klara Hitler en Pauline Epstein nie hulle spesifieke opofferings gemaak het om Adolf en Jeffrey in die lewe te bring nie, dat daar nie miljoene Jode sou sterf of veelvuldige jongmeisielewens verwoes gewees het nie?  Ongelukkig nie noodwendig nie.  Nie Klara of Pauline het geweet van die toekomstige gruweldade wat hulle seuns gaan pleeg nie.  Net soos wat hulle nie veroordeel kan word vir hulle opofferings nie, kan ek (en selfs Morrow Graham) ook nie vereer word vir, wesenlik, dieselfde opofferings nie!   


Ek wil nie regtig in ‘n ball gown vereer word met ‘n blink goue toekenning op ‘n glansgeleentheid in ‘n volgepakte Super Bowl nie.  Ek is geen Hollywood superstêr of Avenger nie, maar soos met die oorsprong van Hulk se bo-menslike krag, wil ek hierdie skrywe afsluit met ‘n gammastraal zap.  Toe ons God besluit het om Sy Seun te stuur om ons te verlos, het hy net ‘n vrou gekies as spanmaat.  Sy was MOEDER van Jesus.  Voor Sy geboorte was die Seun van God afhanklik van ‘n vrou se brein, liggaam en hart.  In Sy tyd op aarde, het Hy vroue onbeskaamd opgehef na ‘n gelyke vlak met manne en na Sy opstanding uit die dood, het Hy eerste aan ‘n vrou verskyn.  God het ‘n vrou gelyk aan ‘n man geskape, maar vroue is wreed en gewelddadig onderdruk.  Jesus het nie net op aarde verskyn nie, Hy het ‘n MOEDER nodig gehad en hoewel Hy vroue opgehef het, het die wrede en gewelddadige onderdrukking van vroue steeds voortgegaan.  Dis steeds net so walglik algemeen vandag, meer as 20 eeue later.  Dit skuil binne-in godsdiens, kultuur en tradisie en word afgedwing deur die skrikbewind van misogynistic manne wat eintlik taamlik onseker van hulleself is.  Dis eintlik beduidend dom-astrant van hierdie spesifieke manne om hulle denkbeeldig-verhewe mag te gebruik om vroue met geweld te onderdruk en misbruik.  Die enigste Heilige God het dit so bestem dat hulle elkeen hulle lewensbestaan te danke het aan ‘n vrou en dat, sonder ‘n vrou, hulle sal uitsterf sonder ‘n nageslag.  Dis beduidend verwaand om te onderdruk wat God gelykgestel het, maar dit is die toppunt van skynheilige lafhartigheid om daarmee voort te gaan nadat Jesus die onderdruktes opgehef het!


Ek is vrou, ek is MOEDER, ek is na die beeld van God geskape om gelyk aan man te wees.  Danksy die Godvresende manne en vroue in die leierskap van my geliefde gemeente, Pellissier, word ek nie onderdruk nie.

Comments

Post a Comment

Popular posts from this blog

ASSISTING THE DYING TO MAINTAIN DIGNITY IN DEATH

MOTHER’S DAY 2024

TEARS, TATTOOS AND THE TENDER WISDOM OF A FIVE-YEAR-OLD